Categories
Berichten @NL

Geldwassery van miljoene by KSB

Bewerings dat sommige leiers van KwaSizabantu (KSB), ʼn sendingorganisasie in Kranskop in KwaZulu-Natal, by geldwassery van ongeveer R136 miljoen betrokke is, is glo net die puntjie van die ysberg. ʼn Ondersoek het glo bewyse aan die lig gebring dat dié geld tussen 2015 en Desember verlede jaar by KSB gesteel is. Daar is ook aanduidings dat die bedrag selfs hoër kan wees.

Die KwaSizabantu is aan die einde van 1966 deur Erlo Stegen, ʼn Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, gestig nadat hy geglo het ʼn Christelike herlewing het onder die Zoeloes posgevat. Die sendingstasie beskou homself sedertdien as ʼn sogenaamde herlewingsbeweging en het volgelinge in onder meer Duitsland, Nederland, Frankryk, België en Switserland.

KSB in KwaZulu-Natal staan bekend as ʼn vrywillige diensverskaffer wat op Bybelse beginsels gegrond is en as ʼn openbare voordeelorganisasie (PBO) geregistreer is. Mense wat na die sendingstasie kom, kan by selfsorgprojekte betrokke raak. Dit sluit onder meer ʼn boerdery, ʼn pottebakkery, ʼn konfytfabriek en verpleegdiens in. Daar is ook opleidingsfasiliteite soos ʼn skool, onderwyskollege en ʼn skool vir volwasse opleiding. Die sendingstasie kan meer as 7 000 mense huisves. Konferensies vir predikante word ook van tyd tot tyd op die terrein aangebied.

In ‘n ondersoek na ekonomiese wanpraktyke by KSB word sommige van die sendingstasie se leiers by beweerde geldwassery en diefstal betrek. Vaughan Schwartz, ʼn oudpolisielid en tans ʼn spesialis ondersoeker rakende ernstige ekonomiese misdade, ondersoek die verdwyning van miljoene rande. Schwartz is deel van die bekende spesialis ondersoeker Mike Bolhuis se ondersoekspan. Die ondersoek is deur ‘n voormalige KSB trustee, wie se naam in die stadium weerhou word, saamgeroep en word deur ‘n onafhanklike weldoener gefinansier.

Schwartz het gesê die ondersoek is slegs die begin van verdere bewerings van misdadige en sogenaamde immorele gedrag by die sendingstasie. KSB se ouditeure weier sedert 2016 weens onreëlmatighede om die sendingstasie se jaarlikse finansiële state af te teken en sê daar was dus geen ander uitweg as om KSB se gedrag by hulle beheerliggaam te rapporteer nie, aldus Schwartz.

KSB het glo in ʼn poging om die diefstal van hul ouditeure te versteek ʼn leningsrekening geopen in die naam van Thofozi Dube. Lydia Thofozi Dube is ʼn senior trustee van KSB en ʼn groot vertroueling van Erlo Stegen, stigter en leier van die KSB-sending. Die begunstigde se naam, Thofozi Dube, is later na dié van ʼn ene “Moses Ndlela” verander. Daar is egter geen rekord van só ʼn mens by KSB nie. Die ondersoek het gewys Ndlela se regte naam is glo Canaan Ndlovu.  Hý voer aan hy het onder direkte opdrag van Dube opgetree om Stegen en KSB te bedrieg.

Op grond van die misleiding het Stegen glo sy goedkeuring gegee dat geld van KSB aan Ndlela betaal word vir kamma-aktiwiteite wat Dube gefabriseer het. Ndlovu het, as Moses Ndlela, vir homself kommissie uitgehou en die balans aan Dube betaal.

Verskeie oudwerkers van KSB het reeds die sendingstasie verlaat. Friedel Stegen, ʼn stigterslid van KSB en Erlo Stegen se broer, het weens sy betrokkenheid by en ondersteuning van die ondersoek na KSB, by die organisasie bedank. In sy skriftelike bedanking het Friedel Stegen wanpraktyke by KSB blootgelê en homself daarvan gedistansieer.

Peet Botha, ʼn voormalige prediker by KSB wat in Januarie vanjaar ná 32 jaar die sendingstasie verlaat het, het aan Maroela Media gesê dat KSBtakke in Europa alle bande met KSB in KwaZulu-Natal verbreek het. Hy sê die takke het heeltemal weggebreek van KSB en het selfs hulle name, wat voorheen ook KwaSizabantu geheet het, verander.

Nóg ʼn trustee van KSB, Arno Stegen (Friedel Stegen se seun), het ʼn ruk gelede ook die sendingstasie saam met sy seuns verlaat, terwyl sy vrou daar agtergebly het.

Volgens Schwartz het dit tydens die ondersoek aan die lig gekom dat miljoene rande in die vorm van dividende en moontlike lenings van ʼn bekende watervervaardiger in Suid-Afrika aan KSB oorbetaal is. KSB het daarna glo die inbetalings na kontant omgeskakel en dit dan aan “Moses Ndlela” by afgeleë afleweringspunte oorhandig.

Die kontant verdwyn dan en die enigste rekord daarvan is die ongesekureerde lening wat aanvanklik in Dube se naam was voordat dit na “Moses Ndlela” verander is. Op 24 Desember verlede jaar het die leningsbedrag op R136 miljoen gestaan. Volgens Schwartz blyk dit dat dié bedrag steeds styg.

KSB se samewerking met die ondersoek het intussen ook glo handomkeer verander. KSB se hoof van sekuriteit en ʼn voormalige militêre intelligensiebeampte, Tobie Vermaak, het aanvanklik gesê die organisasie het niks om weg te steek nie en dat die ondersoekspan onbeperkte toegang tot die sendingstasie het en onderhoude met trustees kan voer. Dit het egter vinnig verander nadat KSB regsverteenwoordiging gekry het. “In stede van hul samewerking gee, het hul advokaat ons ondersoek betwis,” het Schwartz gesê.

Maroela Media het KSB verlede week telefonies om kommentaar genader en is versoek om geskrewe vrae stuur. Geen terugvoer is tot dusver gekry nie.

Enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help, word gevra om die hoof van die private

ondersoekspan, Vaughan Schwartz, te bel by 079 347 5691.

 

Hoofverdagtes in KSB geldwassery-saak geïdentifiseer