Categories
Berichten @NL

36 weeskinders van Mpumalanga ‘skoonveld

Sowat vier maande gelede is 36 kinders van die KwaSizabantu Schulzendal-sendingstasie in Mpumalanga in kennis gestel dat hulle die stasie moet verlaat. Waar dié 36 kinders hulself vandag bevind kan nie KwaSizabantu-sending (KSB) of sy sustersorganisasie, Dokters vir Lewe, beantwoord nie.

Die KwaSizabantu Schulzendal-sendingstasie is in 2002 opgerig en dien as ʼn tak van die hoofsendingstasie, KSB, in KwaZulu-Natal. Onder die leierskap van wyle John Powys is ʼn meule vir plaaslike inwoners gebou, ʼn laerskool tot stand gebring en werksgeleenthede in die vorm van ʼn boerdery binne die gemeenskap geskep.

Ná die dood van Powys het sy seun, Jonathan Powys, die leiding oorgeneem.

Jonathan het in 2018 bande met KSB en die Schulzendal-sending verbreek nadat hy ongerymdhede ten opsigte van geldsake vermoed het.

Maroela Media het vroeër berig dat die speurder Mike Bolhuis bewerings ondersoek dat sommige leiers van KSB by geldwassery van ongeveer R136 miljoen betrokke is. Dié geld is glo tussen 2015 en Desember 2018 by die KSB gesteel. Intussen is enkele hoofverdagtes geïdentifiseer.

Geen meule, skool of werksgeleenthede is vandag meer sigbaar by die sendingstasie nie. Ook nie kinders nie.

Volgens die voormalige KSB-werknemer, Conrad Ellis, was die kinderhuis en skool by die Schulzendalsendingstasie ook slagoffers van die beweerde korrupsie en swak leierskap. Ellis, wat vir ʼn jaar en ʼn half projekbestuurder van vyf kweekhuise by die Schulzendal-sendingstasie was, vertel dat die kinders vier maande gelede in kennis gestel is dat hulle die sending, wat vir drie jaar hul tuiste was, moet verlaat.

 “Sommige van die kinders is baie klein. Meeste van daai kinders kom uit haglike omstandighede en families wat nie behoorlik na hulle kan omsien nie. Daar is een seuntjie wat byna ses jaar oud is. Sy pa is ʼn alkoholis. Elke kind het sy eie storie.” Ellis raak bewoë wanneer hy oor die kinders praat: “Dit is moeilik vir my om hieroor te praat.”

Nagenoeg 18 van die 36 kinders is van die LifeChild-weeshuis in Malelane afkomstig. LifeChild is ʼn projek wat deur Dokters vir Lewe (DFL) bestuur word. DFL is in 1991 deur Dr. Albertus van Eeden, ʼn medewerker en prediker by die hoof KwaSizabantu-sending in KwaZulu-Natal, gestig. Sy vrou, Karin van Eeden, staan aan die hoof van die LifeChild-projek.

Sedert 2016 het die getal kinders verdubbel tot 36. Ellis sê: “Lede van die gemeenskap het kinders daar aangebring wie se ouers dood is en wat nie meer deur die tannie of die ouma versorg kan word nie.”

ʼn Gemeenskapswerker in die omgewing, Spefina Ntombi Nyambi, het ʼn ruk gelede kinders na die sending geneem omdat sy reeds ander kinders versorg. Nyambi is drie maande gelede gevra om die kinders te kom haal.

“Ek het geen plek vir die kinders nie. Hulle het geen geboortesertifikate of identiteitsdokumente nie. Ek kan net Saterdae vir hulle kos gee.”

“Vandag weet ek nie waar al die kinders is nie.”

Volgens Ellis het die Schulzendal-sending uitmekaar begin val nadat Powys bedank het.

“Almal is weg.”

Ene Sabastian Merlot en sy vrou is by die sending aangestel nadat Powys bedank het. Abigail Ndlela is as versorger oor die kinders aangestel, maar is ook vanjaar weggestuur.

“Die oggend van 28 Augustus is daar gesê ek moet gaan, met al die kinders,” vertel Ndlela. “KwaSizabantu was my huis. Ek het my huis verloor.”

Ndlela het self ʼn weeshuis van haar eie in Schoemansdal. “Daardie dag het hulle die kinders met ʼn bakkie geneem na waar hulle vandaan gekom het. Hulle het my en nege van die kinders by my huis afgelaai. Hulle het ook vir my ʼn kind van die Oos-Kaap gegee. Hulle het my verbied om die sending te besoek.”

Voormalige en huidige werknemers van Dokters vir Lewe met wie Maroela Media kontak gemaak het verkies om nie met die media te praat nie.

Maroela Media het by verskeie geleenthede KwaSizabantu asook Dokters vir Lewe gekontak deur middel van oproepe en e-posse. Daar is by een geleentheid vlugtig met die LifeChild-bestuurder, Karin van Eeden, gesels. Sy wou slegs bevestig dat ʼn storm in 2016 die dak van ʼn ander weeshuis in Schoemansdal vernietig het.

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/36-weeskinders-van-mpumalanga-skoonveld/