Categories
Berichten @NL

Verslag aangaande Kwasizabantoe Sending

Opgestel deur ‘n paneel van kerkleiers

Ons, verteenwoordigers van en lede van die Christelike gemeenskap (Evangelies en Ekumenies), het in Pietermaritzburg bymekaar gekom op die 24ste Maart, die 23ste April en die 23ste Junie van hierdie jaar. Ons doel was om navrae te doen en ondersoek in te stel na die hele polemiek rondom Kwa Sizabantoe Sending [KSB] Ons is byeengeroep weens herhaalde versoeke van Christenleiers hier en wêreldwyd oor die beweerde wanpraktyke in die leer en lewe van KSB se leierskap. Ons het verskeie getuienisse van mense aangehoor wie se eie lewens en die lewens van familielede erg ontwrig is deur die optredes van KSB. Weer en weer moes ons met afgryse, verhale van erge geestelike, fisiese en sielkundige vergrype aanhoor.

Ons aanvaar dat daar baie individuë is wat die veranderende genade van God ervaar het deur die bediening van KSB en ons aanvaar ook dat daar lidmate van KSB is wat baie toegewyde Christene is en wat poog om die Here in waarheid te dien. Tog moes ons met afgryse luister na die getuienisse van amper 20 persone van verskeie ouderdomme, nasies, herkomste en kerklike agtergronde . Hierdie mense was verteenwoordigend van ‘n baie breër gemeenskap van familielede, oud-medewerkers en oud-lidmate wat bereid was om te getuig voor die PANEEL. Hulle getuienisse het so ‘n merkwaardige ooreenkoms gehad met mekaar dat ons dit nie kon ignoreer nie en dus het ons gepoog om terugvoering van KSB hieroor te kry. Omdat ons gefaal het om in verantwoordelike gesprek met KSB oor die aantygings te tree, kon ons nie langer wag nie en het ons dit goed gedink om hierdie VERSLAG aan die breër Christelike gemeenskap uit te reik.

Binne die hele proses het ons as paneellede gepoog, deur die genade van God, om die aantygings teen KSB en om onsself, nederig, self-krities en onderworpe aan drie bybelse beginsels te hou. Hierdie beginsels is:

1: “Waar is jy” (Gen 4:9) Elkeen van ons moet onsself afvra waar ons voor God staan.

2: “Waar is jou broer” (Gen 4:9) Ons almal in die bediening en KSB moet onsself afvra hoe lyk ons verhouding teenoor ons mede-broers en -susters met wie ons in gemeenskap behoort te lewe.

3: “Is ek my broer se oppasser?” (Gen 4:8) Die antwoord hierop is onvoorwaardelik “ja”. Dit beteken dat ons as paneellede ‘n ware broederlike verantwoordelikheid het teenoor KSB en hulle wat beswaard en verlets is maar dat KSB ook verantwoordelike bemoeienis moet maak met hulle wat verlets is as gevolg van KSB se optredes.

1 : Gebeurtenisse wat aanleding gegee het tot die betrokkenheid van hierdie PANEEL met KSB.

Skrywes in die media gedurende die tydperk Januarie – Februarie 2000 rondom misbruike te KSB, kom tot die aandag van verskeie kerkleiers. Vorige lidmate van KSB doen persoonlike beroepe op kerkleiers om betrokke te word in die polimiek. Gelyktydig hiermee eskaleer die aantygings in felheid en veelheid in die media. Dit het tot gevolg dat die leierskap van KSB meer en meer negatief bejeën word en daar ‘n stigma van boosheid aan hulle begin kleef wat hulle sekerlik sou wou vermy het.

Weens dit alles het sekere kerkleiers die verantwoordeliheid opgeneem om die leier van KSB, mnr. Erlo Stegen te kontak in die hoop om ‘n gesprek en moontlike versoening te bewerkstellig tussen die leierskap van KSB en die verletste of vervreemde vorige lidmate of familielede. (volgens Mt. 5:23) Ons wou ook poog om deur hierdie gesprekke aanleiding te gee tot die nodige hervormings binne die KSB sisteem indien nodig. Ongelukkig het die KSB leierskap hierdie versoek van die hand gewys. Hierna het ons, met die medewete van KSB, ‘n vergadering van kerkleiers byeen geroep waar vorige lidmate en familielede hulle getuienisse kon kom lewer.

Hierna is weer gepoog om met die lede van die KSB-leierskap in gesprek te tree; veral siende die erns van die aantygings wat in die getuienisse aangehoor is.

Die KSB-leierskap het weereens geweier om die groep te woord te staan omdat; volgens hulle word die PANEEL van kerkleiers mislei deur “verbitterdes en vyande van KSB”. Die KSB leierskap het egter die individuele lede van die paneel uitgenooi om die sendingstasie in hulle private hoedanigheid te kom besoek.

Die PANEEL van Kerkleiers se antwoord hierop was om weereens die erns van die saak te verduidelik en te vra vir ‘n vergadering tussen die PANEEL en die leierskap van KSB. Hulle het weer geweier op grond van die feit dat die leierskap van KSB in die buiteland sou wees ten tye van die beoogde vergadering.

Hierna is 2 verdere datums vir oorweging voorgelê en is KSB se leierskap weereens versoek om so ‘n vergadering by te woon. Ook dit is afgewys met die verskoning dat die PANEEL onkerkregtelik opgetree het want “van die getuienisse wat hulle aangehoor het, was reeds voorheen in die media gepubliseer” en dus is die PANEEL deel van die smeerveldtog teen KSB. Vir ons as PANEEL was dit asof KSB die sin en doel van Matt 18 totaal ontken alhoewel die PANEEL oor en oor bevestig het dat Matt 18 die grondbeginsel van die hele vergadering sou wees.

KSB se laaste woorde aan ons was a finale verwerping van ons versoek om dan as PANEEL ontvang te word op die sendingstasie vir so ‘n vergadering. Hulle het ons weereens uitgenooi om hulle in ons persoonlike hoedanighede te kom besoek maar het hulle onwillig verklaar om selfs in persoonlike gesprekke die aantygings teen hulle te bepreek. Volgens hulle brief, gedateer 13 Junie 2000 “Nooi ons u en u kollegas uit om ons te kom besoek maar nie om die aantygings te bespreek nie.” Die PANEEL erken dus dat hulle nie kon optree volgens die regsbeginsel van AUDI ALTERAM PARTEM (luister na beide kante) nie en dat hierdie dokument enige insette vanaf KSB ontbreek. Ons voel egter dat ons het alles in ons vermoeë gedoen om dit te kon bereik maar die geleentheid daartoe is ons nie gegun nie.

2: Wat die PANEEL geleer het uit hulle gefaalde pogings tot dialoog met KSB.

2.1: Hulle onwilligheid om in gesprek met ons te tree, laat ons met twyfel in ons gemoedere oor hulle openheid teenoor en medewerking met die evangeliese-gemeenskap. In diè tyd dat hulle geloofwaardigheid bevraagteken word , sou openheid en medewerking met die evangeliese-gemeenskap veel goeds kon teweeg bring.

2.2: Die rede wat hulle aanvoer vir weiering tot gesprekvoering is dat die PANEEL skynbaar van dieselfde mense gebruik maak wat ook aan die media inligting verskaf het. Alhoewel ons die versekering verskaf dat ons slegs met 1 persoon wat met die media betrokke was ook ‘n onderhoud gevoer het, het hulle steeds geweier. ( Hierdie persoon het geen belangrike rol gespeel in die sameroeping van of organisering van die ondersoek of die inhoud van hierdie VERKLARING gehad nie) Die leierskap van KSB was selfverdedigend en uiters afwysend teenoor almal wat getuig het voor die PANEEL en was baie vinnig om hulle af te maak as “vyande van die Sending” Hierdie gesindheid van die leierskap van KSB ruik vir ons na ‘n toesmeerdery en dit is uiters kommerwekkend.

2.3: Ons verwysing na interne spanning en skeuringe binne die geledere van die lidmate en medewerkers van KSB is heftig deur hulle ontken; des nie teen staande die gebeure in KSB-Duitsland en KSB-Tugela Ferry. Dit bewys dat die leierskap van KSB onwaarhede praat.

2.4: Samevattend: hulle weiering tot gesprekvoering, die leierskap se gesindheid, die redes wat hulle aanvoer en die getuienisse van die “verletstes”, laat ons met geen ander uitweg as om te bevind dat hulle selfregverdigend optree, onwillig is om die probleme wat ons in 4 hieronder bespreek te aanvaar en dus moet ons die Christelike gemeenskap vra om sy verhouding met KSB in heroorweging te neem.

3: Waarom die PANEEL besluit het om hierdie bevindinge openbaar te maak aan die breër Christelike-gemeenskap.

3.1: Ons besef dat KSB noue skakeling het met die evangeliese en die breër Christelike-gemeenskap deur verskeie interkerklike organisasies soos bv.: Christians for Truth, Doctors for Life, True Love Waits, Radio Khwezi, etc en die optredes van die KSB kore, hulle rondreisende evangeliste, die jaarlikse Predikantekonferensie en die halfjaarlikse Jeugkonferensies.

3.2: Ons is ook bewus van KSB se openlike aanvaarding van en assosiasie met die evangeliese-gemeenskap soos bevestig deur hulle eie tuisblad op die Internet, hulle nuusbriewe en geskriftes en die uitsprake in die media deur hulle leiers.

3.3: Op gereëlde basis nooi KSB vooraanstaande predikers en ander kerkleiers uit om op te tree as predikers of sprekers op die sendingstasie. Hulle onskuldige aanvaarding van hierdie uitnodigings word dan misbruik asof hulle die doen-en-late van KSB aanvaar.

3.4: Omdat KSB openlik assosieer met die evangeliese-gemeenskap, voel ons dis redelik om van KSB te verwag om ‘n sekere mate van openheid en gemeensaamheid met ons te hê. Veral dan ook in die lig van KSB se uitgesprokenheid oor en pogings tot hervorming van die kerke, gemeenskappe en regerings orals oor. Dit is dus van uiterste belang om KSB se eie situasies bo alle verdenking te kan plaas.

Weens hulle openlike assosiasie met die evangeliese-gemeenskap, plaas hulle alle evangeliese organisasies onder verdenking weens die volhardende gerugte wat in die media verskyn. Christen leiers het die verantwoordelikheid om toe te sien dat hulle medewerking en stille assosiasie met KSB nie misbruik word deur KSB om lidmate en medewerkers geestelik, sielkundig en fisies te mishandel nie.

3.5: Volgens Skrifbeginsels, Pastorale Sorg en ons sosiale verantwoordelikheid, mag gerugte van mishandeling nie geïgnoreer word nie. Die breër Christengemeenskap moet agter die volle waarheid probeer kom, moet die oorsake van die probleem probeer aanspreek en voorkom en moet herderlik uitreik na die verletstes om sodoende ‘n verergering van die situasie te verhoed.

As leiers wat ‘n Godgegewe taak het om hulle te versorg en beskerm wat aan ons toevertrou is, voel ons dis onregverdig, onwys en vals om net die positiewe van die KSB bediening te besing terwyl ons die foute en wydverspreide en herhalende misbruike verbloem of daaroor swyg . Dit is in ons beswil, in diè van die breër Christelike-gemeenskap en in diè van KSB om die bybelse voorskrif soos in Matt 18: 15 – 18 vervat, toe te pas ten einde die krisissituasie op KSB te ontlont en die breër Christelike-gemeenskap te ruste te bring.

3.6: In die lig van die beweringe en getuienisse, en die optredes van die leierskap van KSB, kan ons nie anders as om ‘n waarskuwning aan die hele Christelike-gemeenskap te rig nie. Daar is verskeie voorbeelde van ware herlewings wat later verval in erge dwalinge en daarom moet die Christelike gemeenskap let op:

3.6.1: Die onwilligheid om verantwoording te doen.

3.6.2: Die versuim om oop en eerlik teenoor breër Christelike-gemeenskap te wees.

3.6.3: Die onwilligheid om probleme te aanvaar en daaroor in gesprek te tree.

3.6.4: Die onwilligheid om versoening te soek en te bewerk volgens Matt 5:23

3.6.5: ‘n Elitisties beskouing oor hulleself en die ontbreking van dienswilligheid by die leierskap.

3.6.6: Die regverdiging van of aanvaarding van onderdrukkende metodieke.

4: Gevalle van vermeende misbruike en mishandeling gepleeg deur die leierskap van KSB.

4.1: Onbybelse leerstellings en optredes:

Die PANEEL is bewus van Mnr. Erlo Stegen se openbare verklarings dat KSB geen nuwe leerstellings verkondig nie en dat hulle geen alleenaanspraak op die waarheid het nie. Tog weerspreek die getuienisse wat ons aangehoor het dit en dui dit vir ons op ‘n onkonsekwentheid tussen KSB se openlike verklarings en hulle private optredes.

Volgens die getuienisse het mev Hilda Dube in die verlede ervarings van sinsverrukking belewe waartydens sy “boodskappe van God'” ontvang het en mnr. Erlo Stegen het dit as outentiek aanvaar en so aan die gemeente deur gegee. Die PANEEL beskou dit as uiters subjektief en totaal onaanvaarbaar volgens bybelse norme.

Weens die sogenaamde ervaring van “herlewing” wat begin plaasvind het in 1966 reeds, het die leierskap van KSB hierdie subjektiewe ervarings verabsoluteer en Nuwe Testamentiese voorskrifte begin misken. Sodoende het hulle die grense van christelike leierskap en gesag ernstig begin oortree en die bybelse aanbevelings verbreek. KSB funksioneer hopeloos te veel in isolasie en verabsoluteer hulle eie “openbarings”. Gevolglik is daar ‘n misbruik van outoriteit en skep hulle ‘n sub-kultuur van vrees, beheersing en manipulasie.

‘n Voorbeeld hiervan is dat wanneer lidmate hulle besorgheid uitspreek oor verkeerde uitsprake, optredes of versuime van die leierskap; selfs oor openlike sondes of duidelike wetsoortredings, word daardie lidmaat onmiddellik geïsoleer en veroordeel asof die lidmaat dan die oorsaak van die probleem sou wees. Omdat die leierskap verhewe is bo enige verdenking, bevraagtekening of verantwoording-doening, skyn dit asof enige kritiek op of bevraagtekening van die leierskap duidelik in lyn gebring word met rebellie teen God.

4.2: Die onbybelse rol van vrees:

Deur getuienisse het die PANEEL tot die gevolgtrekking gekom dat mnr. Erlo Stegen ‘n onnatuurlike mate van respek en outoriteit opneem sonder genoegsame verantwoording-doening aan volwaardige kerklike regeringe of aan die breër Christelike-gemeenskap. Gevolglik het hy sy posisie begin misbruik.

Hy en ander leiers van KSB het hulle gesag op goedertrouende lidmate begin afdwing deur manipulasie en vrees. Volgens die getuienisse van mense wat oor ‘n tydperk van 30 jaar strek , kon ons ‘n duidelike beeld kry van die ongelooflike rol wat vrees in hulle lewens verkry het. Die blywende skade in hulle lewens is ook duidelik vir die PANEEL. Herhaalde male moes ons stellings soos diè aanhoor: “Erlo het ons totaal regeer.” “As Erlo tevrede was, was alles reg.” “Erlo was ons God”

Die PANEEL het ook ‘n duidelike beeld van God as wraaksugtig en ongenaakbaar kon identisifeer. Hier verwys ons na stellings soos: “God is altyd kwaad” Baie van die vorige lidmate van KSB wat nou by ander kerke inskakel, het erken hoe wonderlik die nuwe ervaring van die leerstelling van die Liefde-van-God vir hulle was want terwyl hulle nog op KSB was, kon hulle nooit aan God dink as liefdevol nie. Volgens hulle was God immer wraaksugtig en veroordelend. Dit laat die PANEEL met die duidelike besef dat KSB ‘n skewe beeld van God verkondig en bevestig ons gevolgtrekking van ‘n onbybelse rol van vrees.

4.3: Fisiese onmenslikheid.

Die PANEEL moes na vele getuienisse luister vanaf die sogenaamde “Kranskop” dienste in 1975 tot in die hede; van ‘n duidelike patroon van ongenaakbare en soms onmenslike lyfstrawwe. (Daar is selfs bewerings dat iemand gesterf het as gevolg van ‘n drag slae) Daar was ooggetuie verslae van onredelike strawwe aan kinders en jeugdiges; van lyfstraf , aanrandings, eensame-opsluitings en erge trauma weens onbenullige fouterings. Die herhinnerings hieraan het blywende indrukke van terreur en onmenslikheid gelaat by vele van die getuies.

Daar was ook beskrywings van onmenslike lyfstrawwe van skoolkinders in die tagtiger en vroeë negentiger jare.

Daar is ook gehoor van fisiese aanrandings van volwassenes binne die afsienbare verlede. Hierdie aanrandings het selfs in die teenwoordigheid van andere plaasgevind en het die persone ernstige getraumatiseer en blywende psigiese skade aangerig.

Volgens die PANEEL se beskouing bring dit ‘n dringende en ernstige eis op die leierskap van KSB om verantwoordelikheid hiervoor te aanvaar.

4.4: Sielkundige mishandelinge.

Ons moes getuienisse aanhoor van manipulasies en ernstige sielkundige druk wat deur die leierskap van KSB uitgeoefen word. Skrikaanjaende gevalle is aangehoor waar mnr. Erlo Stegen vloeke uitspreek oor lidmate en familielede wat sy outoriteit bevraagteken of versoek het om die gemeenskap van KSB te verlaat. Stellings soos: “Ek plaas jou nou onder God se oordeel”het mense se lewens geskaad. Vele is geïsoleer of geïgnoreer sonder verduidelikings terwyl ander toegang tot KSB geweier is en dan terselfder tyd geblameer is dat hulle nie medelewende lidmate is nie. Met skok moes ons verneem van minstens 2 gevalle van selfmoord weens hierdie sielkundige mishandelings.

4.5: Vertrouens breuk.

Verslae is aangehoor waar persoonlike, vertroulike belydenisse tussen die medewerkers van KSB bespreek is en dan later misbruik is om die persone te manipuleer. In sommige gevalle is hierdie belydenisse selfs aan die gemeentelede bekend gemaak in ‘n poging om die persoon te beswadder en te diskrediteer. Lidmate is ook aangemoedig om mekaar by die leierskap te beskinder met die gevolgelike afbreking in vertroue en meelewing.

4.6: Die opbreking van families en selfs huwelike.

Vanaf die vroegste tye van mnr. Stegen se bediening tot die hede, is daar vele getuienisse van die onnodige bemoeiing in familiesake en huwelikslewes van lidmate. Weens onverklaarbare redes is lidmate meteens geïsoleer of onder sensuur geplaas met die gevolglike vervreemding van geliefdes en verwante.

Daar is selfs gevalle van eggenotes wat aanbeveel is om te skei van hulle wederhelftes op gronde van beweerde hardnekkigheid of rebellie teenoor die leierskap. Daar is die geval van ‘n vrou wat haar man geskei het op gronde daarvan dat hy die”weg van KSB” verlaat het met die goedkeuring en ondersteuning van die leierskap van KSB. Dit, des nie teen staande die feit dat hierdie man ‘n oortuigde en medelewende Christen is wat alles in sy vermoeë gepoog het om sy huwelik te herstel. Die PANEEL is bewus van ‘n soortgelyke situasie wat huidiglike weer afspeel op KSB.

Ons het getuienisse aangehoor hoe skoolkinders van KSB verban is omdat daar ‘n briefwisseling tussen ‘n seun en meisie plaasgevind het. Gevolglik moes die ouers ook die kind uit hulle huis verban en dikwels oorlaat en uitlewer aan bose gemeenskappe.

Daar is ook getuienisse van die verbod op enige kontak met kinders of volwasse lidmate wat onder die ban verkeer. Lidmate is gedreig met sensuur of verbanning indien hulle die verbod sou oortree.

Die PANEEL moes aanhoor, dat tot so onlangs soos die 24 ste Maart 2000, lidmate verbied is om huweliksbevestigings van vorige lidmate; selfs familielede s’n, by te woon.

4.7: Onwaarhede en bedrieërye.

‘n Groot groep getuies, selfs lidmate wat in die afsienbare verlede KSB verlaat het, het getuig hoe die leierskap van KSB openlik leuens verkondig, mense onder wanvoorstellings bring, dit aanmoedig en dan goedpraat as “wysheid”. Een vorige lidmaat het getuig hoe mr Erlo Stegen sou verklaar het dat: “‘n Leuen wat in Christus verkondig word is geen leuen nie want dit beskerm Sy werk.”

4.8: Die leierskap se oënskynlike selfbeskerming van hul geledere.

Weens die getuienisse besef ons dat daar duidelike onregverdighede is wanneer dit kom by die toepassing van die tug. Gewone lidmate word soms hardhandig en ongenaakbaar hanteer weens die oorteding van minderwaardige reëls of gebruike terwyl die leierskap verskoon word. Selfs in gevalle waar die leierskap ernstige sondes gedoen het, selfs kriminele dade gepleeg het, is hulle verskoon, beskerm en hulle dade verbloem, soms tot nadeel van die heil van lidmate. Twee getuies het vertel van ‘n sekere vorige leier wat vir 5 jaar toegelaat is om te fungeer as leier des-nie-teen-staande sy herhaalde en algemeen bekende seksuele misbruik van meisies wat na hom gekom het vir geestelike berading.

4.9: Eksklusiwiteit – KSB se manier om homself as “Die Weg” te beskou.

Die meeste getuies stem ooreen hierin dat as iemand KSB verlaat so ‘n persoon dan “Die Weg” verlaat het. Volgens hulle verduidelikings beteken dit dat iemand wat die ‘herlewing’ verlaat, ook die gebied van God se grootste seën verlaat. Om KSB te verlaat of met hulle te verskil, is dus gelykstaande daaraan om herlewing in die algemeen te verlaat. Die PANEEL moes aanhoor dat jongmense toegelaat is om persone van ander genootskappe te trou indien die ander persone bereid is om hulle kerk genootskappe te verlaat en lidmate van KSB te word. Maar behalwe vir een of twee gevalle, laat KSB nie hulle jongmense toe om met iemand in die huwelik te tree wat van die KSB lidmaat vra om by sy/haar genootskap aan te sluit nie.

Al hierdie optredes dui op ‘n onbehoorlike eksklusiwiteit vanaf die kant van KSB met die gevolglike onregverdige, genadelose afwysing van lidmate van ander kerkgenootskappe.

5: Die gevolgtrekkings van die PANEEL van kerkleiers.

5.1: Die getuienisse wat die afgelope paar maande aangehoor is, laat ons met die gevolgtrekking dat alles nie pluis is op KSB nie. Daar is ‘n skynbare verborge ‘sisteem’ wat sentreer rondom die persone van die leierskap met hulle onaanvaarbare eksklusiwistiese beskouings.

5.2: In die lig van die getuienisse moet ons tot die onwillige gevolgtrekking kom dat daar kwetsende optredes, beskouings en leerstellings is wat ernstige pyn en leiding by baie oud-lidmate van KSB veroorsaak het. Met skok moes ons verneem van oordrewe mense-vereerings, hardhandige en ongenadige hanterings, sielkundige manipulasies, vertrouensbreking en ernstige familie- en vriendskap skeurings.

5.3: Die PANEEL kan nie met ‘n skoon gewete hierdie toedrag van sake gelate aanvaar nie.

5.4: Die oorweldigende slotsom dui daarop dat KSB besig is om ‘n kultiese instelling te word met sy eksklusifistiese beskouings, misbruik van outoriteit, manipulering van lidmate deur die bevraagbare leestelling van eksplisiete sondebeleidenis en die siellose onderwerping aan die leierskap.

5.5: Ons aanvaar dat daar baie toegewyde Christene is wat lidmate van KSB is en ons besef dat hulle ons medelye eerder as ons veroordeling nodig het. Volgens die opdragte van ons Here Jesus Christus soos vervat in Matt 18 en dan veral in vers 17 het ons nie ‘n ander keuse nie as om te verklaar dat daar ‘n ernstige breuk met bybelse beginsels plaasvind. KSB se leierskap het van hierdie getuienisse aangehoor maar weier om tereg gewys te word en staan dus onder kerklike afwysing.

5.6: Hierdie is egter nie ‘n finale veroordeling van KSB nie. Ons doen ‘n dringende beroep op die leierskap van KSB om hartgrondige selfondersoek te doen met die oog op boetedoening en hervorming waar nodig. Dit sal nie alleenlik God se vergifnis bewerkstellig nie maar ook opnuut die vertroue van die Christelike gemeenskap.

5.7: As die leierskap hierdie probleme aanvaar en hulleself hartgrondig bekeer en bereid is tot boetedoening, sal hulle die stryd in eie geledere, in die breër Christelike-gemeenskap en in gekweste oud-lidmate besweer. (Sien Matt 5:5)

5.8: Ons harte gaan met herderlike bekommernis uit na die baie vorige lidmate wat KSB verlaat het en na die baie wat nog lidmate is van KSB huidiglik. Ons bid baie besonders vir hulle wat volhard om daar te aanbid weens ‘n gevoel van misplaasde lojaliteit en sodoende hulle eie gewetes verkrag. Sommige van hulle het ‘n ongeestelike mense-vereering vir die leierskap met die gevolglike onvermoeë om die woord van God te onderskei. Dit alles het die leierskap mislei tot self-bedrog en die misbruik van hulle posisie.

5.9: Almal wat hierdie dokument met ongeloof lees vra ons, neem dit asseblief ernstig op. Ons het ons bes gedoen om alle bewerings te ondersoek en te bevestig. Huidiglik het ons geen rede om die getuienisse te bevraagteken nie. Ons vra ook dat u nie die beswaarde en gekwetste vorige lidmate van KSB sal veroordeel nie. Hulle getuienisse van misbruike, kultiese vergrype en sektariese neigings kan nie minag word nie.

5.10: Ons vra alle Christelike leiers om te bid vir die vorige lidmate van KSB wat hulp en versorging nodig het. Maar ook dat u vir KSB sal bid dat uit hierdie polimiek hulle tot vernuwing sal kom om ‘n eerbare plek in te neem as ‘n gesonde, funksionele ledemaat in die breër liggaam van Christus.

Ons is bewus daarvan dat die sekulêre owerhede ook besig is met ondersoeke na sake maar ons wil huidiglik geen kommentaar daarop lewer nie.

Geteken te Pietermaritzburg. Die 23ste Junie 2000.

Namens die lede van die PANEEL van kerkleiers.

Eerw. Moss Ntla (Sekretaris van die Evangeliese Alliansie van Suid Afrika.)

Email: TEASA@mailandnews.com

x Cassidy, Dr. Michael (Internasionale Spanleier – Africa Enterprise)

x Cook, Prof. Dr. Calvin. ( Prof. Emeritus Ekklesiologie. Universiteit van Rhodes en afgetrede predikant in die Verenigende Gereformeerde Kerke)

x Frische, Eerw Maartin (Uitvoerende Hoof. Trans-Werêld-Radio van S.A)

x Le Feuvre, Biskop Phillip. (Afgetrede biskop van die Anglikaanse Kerk. – Church of the Province of S.A.)

x Ngubane, Eerw Daniël.

x Odell, mnr Mike. (S.A. Spanleier – Africa Enterprise)

x Rajuili, Eerw Moshe. (Vorige hoof van die Evangeliese Seminarium van die Emfulenie Sendingkerk van S.A)

x Schroeder, mnr John. (Besigheidsman en Trustee van ACAT)

x Sokhela, Eerw Sipho. (Hoof-uitvoerende-beampte van die Kwa Zulu/Natal Christelike raad)

x Scriba, Eerw. Georg. ( Verteenwoordiger Evangeliese Lutherse Kerk in Suider Afrika)

x Thipanyane, mnr Abiël. (Africa Enterprise)

x Wetmore, Eerw Hugh. ( Verteenwoordiger van die Baptiste Unie van Suider Afrika)

x Wright, Eerw Noël. (Algemene sektretaris van die Kerk van Engeland in S. A.)

x Xaba, Eerw. Albert.